Tuis » Blog

Kan ons nog praat van die bonatuurlike?

Submitted by on September 20, 2012 – 2:24 pm3 Comments

As mens die oudste tekste in die Hebreeuse Bybel lees, dele van die Pentateug en Rigters, dan sien mens dat die ou Hebreërs nie noodwendig geglo het dat die geestelike in ’n aparte werklikheid bestaan nie. Gode en engele het tussen die mensdom rondbeweeg, by jou tent aangeklop en soms saam met jou onder ’n boom gesit om middagete te eet. Maar vanaf 800 vC, en veral in die tydperk ná die Babiloniese ballingskap, is die invloed van die Perse toenemend elders in die Nabye Ooste gevoel en was daar ’n toenemende neiging tot ’n antikosmiese dualisme onder die Hebreërs. Dit beteken dat die werklikheid toenemend in twee opgedeel is – ’n aarde (wat oorwegend sleg was) en ’n geestelike werklikheid (wat oorwegend goed was).

In teenstelling met die vroeëre werklikheid waar God en die mens vrylik saam gekuier het (vergelyk Abraham se gemaklike interaksie met God), is die goddelike en die magiese na ’n ander werklikheidsfeer verplaas waartoe mense slegs deur uitsonderlike openbaring (deur die Wet, die esoteriese tempelkultus en ongereelde visioene) toegang kon kry.

God en die engele is dus van mense se alledaagse belewenis vervreem. Mense was teleurgesteld in die hier en nou, ’n werklikheid wat swaar en onaangenaam was. Hulle wou ’n tweede werklikheid hê waar dinge beter kon gaan. En omdat God goed is, is daar geglo dat God vreemd aan hul slegte omstandighede moet wees en eerder in die ander wêreld sy tuiste gehad het. ’n Eksistensiële ontnugtering met die wêreld het God uit mense se leefwêreld gedwing en hul alledaagse toenemend gesekulariseer.

Die godsdienskundige John Cumpsty praat van dié tipe verwikkeling as die oorgang vanaf ’n monistiese wêreldbeeld (waar God/gode deel van die een werklikheid is), na ’n dualistiese wêreldbeeld (waar dié wêreld van die sakrale werklikheid gestroop word en God na ’n ander werklikheidsfeer verplaas word). Die mens word gesien as ’n deel van die aardse eerder as die geestelike werklikheid (vergelyk die woordspeling op Adam en adamah in die tweede skeppingsverhaal)

’n Soortgelyke dualisme het onafhanklik by die Grieke posgevat, waar ’n verhewe werklikheid teenoor die stoflike gestel is. Pythagoras en Plato het dit elk op ’n manier probeer verwoord.

Toe die Jode in die Hellenistiese era deel van die Griekse leefwêreld geword het, het dié twee vorme van dualisme uiteindelik ’n manier gevind om hul denkpatrone te integreer. Intellektuele Jode het die geestelike werklikheid (voorheen gelykgestel aan God se sfeer, die bedoeling agter die Torah) al meer aan die Platoniese ideeryk begin gelykstel. In Karen Armstrong se woorde: “This utterly static image of divinity would have an immense influence on Jews, Christians and Muslims, even though it had little in common with the God of revelation, who is constantly active, innovative and, in the Bible, even changes his mind . . .”

En so het daar in die Weste ’n konsep ontstaan wat ons vandag nog ken as die “bonatuurlike”. ’n Tweede werklikheid wat onafhanklik van die alledaagse bestaan. Soms is ook daarna verwys as die “transendente”.

Die godsbegrip van Aristotles was volledig dualisties en het uiteindelik tot die Westerse God van die filosowe aanleiding gegee – die Eerste Oorsaak, wat as’t ware tot die heelal geboorte gee en buite dit staan.

’n Belangrike element wat die Jode (en later die Christene ) van die Grieke oorgeneem, was die siel, ’n brug wat die twee werklikhede verbind het. Die siel was ’n stukkie van God en die anderwêreldse wat die mens binne in hom rondgedra het, en dus was die mens nie heeltemal net deel van die godverlate stoflike waarin sy vlees ditself bevind nie. Dit was dus ook vir Gnostici en ander mistici moontlik om te dink dat die mens via sy siel toegang tot die bonatuurlike/transendente werklikheid kon hê en daar deel van God en die Goeie kon beleef.

Die siel se kapasiteit vir rasionele denke, sou ook in die natuurlike teologie ’n weg oor die dualistiese kloof na God vorm deur die natuurwette (toe nog verstaan as die gedagtes van God) te ontsluit.

Die dualisme is in die 1800’s deur die filosowe aan flarde geruk.

In die Romantiese mistiek van die 19de eeu was daar ’n agnostiese poging om die kloof tussen mens en God te oorbrug. Wordsworth het God beskryf amper as iets soos die Oosterse Tao, ’n misterieuse skoonheid / panteïstiese God wat jou ontwyk die oomblik as jy hom op die naam wil noem. En William Blake beskryf Jesus se dood as die dood van ’n transendente god, een wat vervang word met ’n goddelikheid wat die wêreld en lewe affirmeer en volledig aards is. ’n Idee is algaande deur filosowe en digters geformuleer dat ons na ’n monistiese kosmologie kan terugkeer danksy ’n sekulêre mistiek – ’n godheid wat nie transendent hoef te wees nie. Hegel en Schopenhauer het albei vir God in die verloop van die mens se doen en late probeer vind, eerder as in ’n ander werklikheid. Feuerbach se vernaamste kritiek teen God was dan ook dat dit ons van onsself en ons wêreld vervreem. In teenstelling met monoteïsme wat ’n toekomstige oplossing vir die dualisme in ’n eskatologiese opheffing van die hier en nou vind, het Marx sy messiaanse hoop op die wêreldse geskiedenis eerder as anderwêreldse ingryping geplaas. Nietzsche het dié godverlatenheid uiteindelik met sy “God is dood”-maksim verwoord. Selfs al was God nie dood nie, het dit algaande duidelik geword God is ten minste onnodig. Die opheffing van die dualisme sou dié wêreld die nuwe tuiste van die sakrale maak, is gehoop. Wanneer Karen Armstrong oor Nietzsche skryf, skryf sy: “Now that God was dead, this world could take his place as the supreme value. Whatever comes back; whatever dies blooms again; whatever breaks is joined anew. Our world could be reversed as eternal and divine, attributes that had once applied only to the distant, transcendent God.”

Die laasgenoemde klink baie optimisties, en tog val dit mens op hoe besonder negatief die 19de eeuse filosowe was. Nes hul dualistiese voorgangers, het hulle (Nietzsche inkluis) almal die wêreld sonder God uiteindelik as ’n hopelose, somber plek beskou.

Teen die laat 20ste eeu, het egter nie net die dualisitese wêreldbeeld nie, maar ook die gepaardgaande negatiwiteit oor die stoflike wêreld gewyk.

Ondanks die somberheid van onder meer Sartre, is die sekulêre omgewing van die laat 20ste eeu een wat veel meer gemaklik en selfs optimisties is oor die verlies van God (die enorme optimisme van die nuwe ateïsme van Dawkins, Harris en Hitchens is ’n latere voorbeeld hiervan). Daar is die gevoel van ‘n byna heroïese kruistog in die ateïsme van Merleau-Ponty, Camus en die Logiese Positiwisme (wat die semantiese ontoereikenheid van gesofistikeerde godsbeelde uitgewys het). Thomas Altizer in “The Gospel of Christian Atheism” het gejuig dat die dood van God ons “liberate from a transcendent beyond”. Selfs die teoloë wat God se bestaan steeds aangehang het, moes in baie gevalle afskeid neem van minstens God se almagtigheid, wat in die nadraai van Auschwitz ondenkbaar geblyk te wees het, of het geargumenteer (soos in Tillich) dat ’n persoonlike god ’n gevaarlike idee is wat moet sterf. Maar bowenal het al dié denkers afskeid geneem van ’n bonatuurlike transendente. Eerder as ’n synde, het Tillich God as verhewe bo bekende kategorieë van bestaan gesien, die grond van bestaan, ’n simbool waarmee ons oor Syn self praat. Teilhard de Chardin het God op sy beurt as die einddoel van evolusie gesien, die omegapunt van die heelal. Ook in De Chardin se identisering van God met die wêreld is daar egter ’n afskeid van die transendente.

Enkele pogings om die transendente in stand te hou (Rahner, Balthasar) het die transendente in sielkundige en estetiese terme beskryf, maar kon nie met integriteit die vroeëre gedagte van ’n tweede realiteit met onafhanklike bestaan laat herleef nie.

Die oorwegende gedagte, so lyk dit vir my, is dat die transendente in die metafisiese sin wat dit in die klassieke Joodse en Hellenistiese tradisies ontstaan het, van sy intellektuele geloofwaardigheid ontneem is en waarskynlik uitgedien is (hoewel, uiteraard nie in populêre godsdiens nie). Sommige juig hieroor, terwyl ’n al kleiner groep dit as rede vir pessimisme sien, of daarvoor probeer opmaak deur die transendente karakter van God te probeer handhaaf sonder om noodwendig ’n dualistiese wêreldbeeld te propageer. Laasgenoemde is baie moeilik om logies te regverdig en vereis dat die beginsel van transendensie heeltemal herbedink moet word.

3 Comments »

  • Dankie vir ‘n interessante artikel. Die dualistiese wêreldbeeld interesseer my ook baie. Ek dink egter dat jy te sterk inkoop by Nietzsche wanneer jy veronderstel: “Mense was teleurgesteld in die hier en nou, ’n werklikheid wat swaar en onaangenaam was. Hulle wou ’n tweede werklikheid hê waar dinge beter kon gaan.” Daar is ander redes waarom die antieke mens in so ‘n ander wêreld (“other world”) kon glo – veral as ons in ag neem dat daardie siening na die heel vroegste tradisies soos die Sumeriërs teruggaan soos ek in my boek Op soek na Abraham en sy God skryf. Ek wil voorstel dat hulle ‘n intuitiewe belewing van so ‘n wêreld gehad het – ‘n wêreld wat nie net as ‘n aparte werklikheid ver weg bestaan het nie, maar wat ook op ‘n manier met ons eie werklikheid verweef is. As dit so is, dan is dit moontlik dat die sekulêre lewensbeskouing ons kondisioneer om van meets af die bestaan van so ‘n wêreld te verwerp. Dit beteken natuurlik nie dat dit nie bestaan nie. Ek dink ons kan ‘n goeie argument maak dat dit wel bestaan.

  • Louwie says:

    `n Baie goeie stuk werk hier Bertus. In ons wetenskaplike omgewing met sy onverbiddelike empirisme kan daar niks anders wees as die tasbare nie. Dus geen God en geen transendente nie.
    Maar soos Willie sê, kan ons steeds `n goeie argument maak dat die “anderkant” wel bestaan. Dit is egter `n ingesteldheid, `n ontvanklikheid en nie `n geleerdheid wat jou daartoe bring nie.
    sal graag Willie se boek lees, dit klink interessant.

  • Almero Cloete says:

    Ek hou van Fred Plumer se onlangse artikel (kyk Progressive Christianity). Sy slot paragrawe is soos volg:

    So what do progressive Christians do with the “God thing?”

    First we admit that whatever it is, if anything, it is a mystery beyond our comprehension. We can rename “it” as the Supreme Mystery, Ultimate Meaning, Unity or…but I believe that it is time to reject the dualistic idea of two realms…the real and the mysterious, the natural and the supernatural. I believe that we can live our lives in such a way that we can intentionally create opportunities to experience that “God Thing.” I now experience the supreme mystery almost every day of my life in some place, in some thought, or with someone.

    Secondarily it is time, once again, to admit that there is no one, nothing outside of myself that needs my praise, my thanks, or even my obedience. I can choose to live in harmony with the operating forces of the universe or I can ignore them. It will not affect what happens to me when I die. However, I also know that there are certain practices in my life that will help me see, hear, taste and feel the awesome miracles that are always around me and within me, every day, wherever I go.

    And finally, we must learn to be comfortable in midst of the unknown. Like all humans, I often find myself clamoring for answers, clarity and security. If we want to be open to the awesome experiences of creation we must be willing to live in the face of the Ultimate Mysteries. I close with another one of my favorite quotes that hangs above me in my office:
    “…what is called knowledge in everyday parlance is only a small island in a vast sea that has not been traveled…Hence the existential question for the knower is this: Which does he love more, the small island of his so-called knowledge or the sea of infinite mystery? “

Leave a comment!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

This is a Gravatar-enabled weblog. To get your own globally-recognized-avatar, please register at Gravatar blog.

*