Tuis » Blog

Uitgestorwe wonders

Submitted by on May 8, 2013 – 8:42 pm2 Comments

So lees ek nou die interessantste boek met ’n vervelige naam, CJ Skead se Historical Mammal Incidence in the Cape Province. Skead was ’n natuurkundige (botanis of iets as ek dit nie mis het nie) wat in die 1970’s deur ou reisigersjoernale en goed gewerk het om op te teken watter wilde diere in die 1500’s tot 1800’s in die destydse Kaapprovinsie voorgekom het.

Voordat dit vol wingerdplase en snelweë was, het die Wes-Kaap van wonderlike gediertes gekrioel.

Van die goed wat mens in Skead se boek uitvind:

• Jan van Riebeeck is een keer in Kaapstad se Kompanjiestuin deur ’n leeu aangeval.

• Op 21 Desember 1658 skryf Van Riebeeck in sy dagboek: “’n Leeu het reguit op Odasoa (die Khoi-stamhoof) afgestorm, hom platgespring en sy arm gebyt. Dadelik het al (Odasoa se) manskappe moedig op die leeu gespring. Een het sy ore gegryp, nog een sy maanhare, ’n ander sy stert en bene, terwyl selfs nog manskappe sy mond met hul hande oopgerek en die dierasie se tande uit hul hoof se arm getrek. Daarna het hulle die leeu met hul assegaaie doodgemaak.”

• As Khoi-beeste ’n luiperd nader sien kom het, het hulle in ’n kring gaan staan, met hul sterte na binne en hul horings na buite. So het hulle die roofdier afgeskrik.

• Vroeë koloniste het gereeld geskryf dat bobbejane hulle besteel en aanrand. By een geleentheid het hulle selfs beweer dat ’n Hollandse vrou in die Kaap deur ’n groep bobbejane platgetrek en verkrag is. Laasgenoemde is fisiologies onmoontlik – mens wonder hoekom sou die Hollanders so ’n storie opgemaak het?

• Toe Vasco da Gama die eerste keer om die Kaap geseil het, was hy verstom deur die duisende robbe wat op die eilande aan die Kaapse kus in die son gelê en bak het. Sy reaksie was om ’n kanon op die dek uit te rol en die robbe met kanonkoeëls te peper.

• Een van die name wat in die 1500’s vir die Kaap gebruik is, was Die Land van Priester Johannes.

• Vroeë reisigers het beweer leeuvleis proe soos wild, net flouer.

• Hulle het ook beweer Khoi-stamme in die Boland vang soms leeus in strikke en maak hulle dan mak; leer hulle selfs om met halsbande rond te loop.

• Leeus se gunsteling kos, glo dit of jy wil of nie, is ystervark.

• Die Hollanders se woord vir die renoster was “neushoring”, vermoedelik van die Duitse Nashorn. Vir ’n seekoei het hulle gesê “nylpaard”.

• Percy Fitzpatrick was een van die laaste mense wat ’n bloubok gesien het voordat die spesie uitgewis is. Hy het in sy oudag onthou: “In the Cape Colony I had the priviledge of seeing in my early youth a blaauwbok. It must have been one of the last half dozen and was one of the most beautiful animals that ever walked the earth.”

2 Comments »

Leave a comment!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

This is a Gravatar-enabled weblog. To get your own globally-recognized-avatar, please register at Gravatar blog.

*