Tuis » Blog

Wat ek glo selfs al kan ek dit nie bewys nie

Submitted by on October 10, 2012 – 2:28 pm2 Comments

Soms wonder ek wie die eerste persoon was wat in die 17de eeu stil-stil begin wonder het of dit nie dalk verkeerd is om ’n ander mens as ’n slaaf aan te hou, met brandysters te merk, met swepe te slaan en te laat werk totdat hy dood neerslaan nie.

Dit was dalk ’n mens wat nie eens sy eie slawe verkoop het nadat hy (of sy) die vraag gevra het nie. Dalk was dit iemand wat net kortliks aan die vraag herkou het en nooit finaal klarigheid oor die wenslikheid van slawerny gekry het nie. Dalk het hy een aand in ’n vriend se oor gefluister dat hy toenemend onseker is of dit heeltemal reg is om slawe aan te hou. En dalk het hy sodoende die vraag ook in sy vriend se gemoed wakker gemaak en het daai vriend dit vir iemand anders ook gevra, totdat die twyfel in mense se gemoed begin groei het en al meer mense na hul slawe begin kyk het soos mense na ander mense kyk.

Eendag het ’n dapper siel opgestaan en die tot nog toe ondenkbare gesê: “Dit is verkeerd, dit moet verander.”

Matthew Parris, ’n Suid-Afrikaans gebore joernalis wat later ’n parlementariër van die Britse konserwatiewe party geword het, het een keer opgemerk dat die gety van moraliteit baie stadig draai. “It turns first in the unconscious mind. We feel – not opposed to something, but vaguely uncomfortable about it.”

Ek is seker mense het gelag of geril die eerste keer toe iemand gevra het of vroue nie dalk gelyk met mans kan meeding nie. Om nie te praat van die eerste wit ou wat voorgestel het dat swart mense dalk soos mense behandel kan word nie. Die eerste keer dat iemand voorgestel het dat gay mense dalk as normaal behandel kan word, is daar sekerlik op hom of haar gespoeg.

En tog verander dinge weldra. Daar is iets goed wat diep in almal se harte lê en wag om eendag wakker te word, en soos mense die een ná die ander daardie deeltjie van hul harte laat ontwaak, word die wêreld gaandeweg ’n beter plek. Eers is daar net een iemand wat dapper genoeg is om te vra of reg en verkeerd nie buite sy eie stam of groep of nasie of geslag ook geld nie, iemand wat besef dit is nie vir altyd moontlik om by ander se pyn verby te kyk nie. Die fluisterings word algaande harder, en eendag is die gras groen teen die hange, die aarde is nuut en vry, en dit alles omdat mense ’n punt bereik het dat hulle besef onreg en wreedheid is altyd aan die verloorkant van die geskiedenis.

Ek glo dit is hoe die wêreld werk. Ek glo dat die geskiedenis aan die kant van ons beter gewete is.

Dit beteken nie mens se brille moet uitermate rooskleurig wees nie. Mense sal altyd nog wrede dinge doen en soos (soos ons en ons voorsate) nie eens besef hoeveel pyn hulle veroorsaak nie, maar ek glo ook dat die mensdom sy stadige mars in die rigting van groter deernis en groter geregtigheid sal voortsit, selfs nadat ek gesterf het.

En dan my punt: Dit is waarskynlik onvermydelik dat mense se oë eendag ook sal moet oopgaan en dat ons sal moet besef die boosheid wat ons diere aandoen, kan nie vir altyd voortgesit word nie. Nie omdat dit fisiek onmoontlik is om dit voort te sit nie, maar omdat die menslike gewete ons sal inhaal.

In JM Coetzee se Lives of Animals word die hoofkarakter gevra hoekom sy haar oor diere ontferm. Sy antwoord, “Omdat ek my siel wil red.” Dié antwoord klink op die oog af melodramaties, maar tog glo ek al meer dit is waar. Ek glo al meer die mensdom stuur af op ’n punt waar hulle gaan kan bewys dat hulle ’n siel het. Nie ’n siel in een of ander metafisiese of geestelike sin nie – maar eerder net die kapasiteit om te wys ons kan die lyding om ons herken, selfs waar ons dit maklik sou kon ignoreer.

Mens gaan nog besef het ’n vermoë om hulle te ontferm oor diegene wat so weerloos en stom is dat hulle nie eens vir ons ontferming kan vra nie.

Ek vertaal die woorde van die joernalis Matthew Scully: “Diere is nou, meer as ooit, ’n toets vir ons karakter, vir die mensdom se vermoë om empatie, eer en geregtigheid te betoon. Dit is onvermydelik dat ons eendag sal leer om diere met deernis te behandel; nie omdat hulle regte of mag oor ons of een of ander aanspraak op gelykheid het nie, maar juis omdat hulle ongelyk en weerloos voor ons staan. Diere kan so maklik misgekyk word, hul belange kan so maklik weggevee word. Wanneer ons as mense hul wêreld betree, of dit nou op plase is, of in die plaaslike diereskut of op Afrika se grasvelde, bring ons terreur met ons saam. Maar ons kan ook leer om die draers van ontferming te wees.”

Daar is geen rasionele rede waarom ons oor diere sou hoef om te gee (of oor slawe of vroue for that matter) nie, maar tog doen ons dit. Tog is daar iets in die oë van hulpelose honde wat van ons afhanklik is om te kan eet, of in die oë van slagdiere wat niks anders as ons ontferming het om hulle van ’n marteldood te red nie, tog is daar iets in daardie oë wat iets diep binne in ons kan aanspreek en ons soms beweeg om beter te wees as wat ons hoef.

Ons kan nie pyn vir altyd ignoreer nie. Ons kan nie vir altyd ons selfsug voor ons gewete plaas nie. Ons kan nie vir altyd die gety van deernis en menslikheid terughou nie. Ek glo vas ons sal ook nie.

2 Comments »

  • Louwie says:

    Ek vind dit al moeiliker en meer afstootlik elke keer as ek by `n slagpale moet werk.
    Upton Sinclair het glo op `n kol gesê: “It is difficult to get a man to understand something when his salary depends upon his not understanding it.”
    Gooi nog sy vraatsug daarby en dit word amper onmoontlik. Maar jy is reg, eendag sal dit ophou want dit is wreed en onmenslik.

  • Hennie says:

    Jy laat my diep dink in hierdie artikel Johannes.

    Ek het al by meer as een geleentheid genoem dat ek glo (weet) diere het siele. My honde het dit vir my geleer, maar steeds eet ek vleis!?

    Ek probeer ‘n stem wees, waar ek kan, vir die regte van gay mense. Die vraag kom egter by my op dat indien diere siele het, hoe kan ek hulle steeds eet en terselfde tyd vir die regte van gay mense opkom!?

    Hierdie is n bealngrike vraag fir my warrior ek diep en ernstig wil dink.

    Sal ek sonder vleis kan klaarkom? Waarom is ek so lief vir vleis, is dit omrede ek met vleis grootgeword het? Is dit nie natuurlik om vleis te eet nie en daarom ‘ok’ nie? Ander diere maak diere dood om te eet, is dit daarom ook nie maar ok vir ons om dieslefde te doen nie? Indien die mens moreel-eties so evolusioneer het dat hulle vetrstaan die dier het n siel, behoort hulle dan nog enigsins diere te eet? Wat van die landbou en diere wat te veel sal word? Ens,ens…

    Ek het dink werk om te doen…

Leave a comment!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

This is a Gravatar-enabled weblog. To get your own globally-recognized-avatar, please register at Gravatar blog.

*